Ratings1
Average rating2
Soms beland ʼn boek op jou tafel wat jou om die verkeerde redes opgewonde maak. Ai, Abraham van Abraham Lückhoff is so een. Die Lückhoff en Albertyn families vorm ʼn integrale deel van my tuisdorp se geskiedenis. Daar is strate na hulle vernoem, van hulle afstammelinge woon steeds hier en Albertyn Apteek is welbekend.
Abraham Lückhoff se oupa het byna honderd jaar gelede die visie gehad om saam met sy neef, Johnnie Albertyn 10 acre grond rondom De Wetsbaai te koop. Hulle het elk ʼn broer genooi om die grond en koste met hulle te deel. Dit is steeds in die twee families se hande en Abraham Lückhoff woon vir groot dele van die jaar daar, as hy nie in Florida, Amerika is nie.
Elke mens het ʼn lewe, elke mens het ʼn storie. Wat maak een mens se lewe so interessant dat vreemdes daaroor sou wou lees? Die behoefte om relevant te bly na aftrede wanneer verganklikheid jou in die oë staar? Om iets na te laat, wanneer jy begin wonder of alles tevergeefs was?
Om staaltjies uit jou lewe so interessant aan te bied dat dit ʼn wye lesersmark gaan tref, verg ʼn uitsonderlike skryfstyl. Baie van die stories spring rond, soos ʼn bejaarde persoon se gedagtes. Totaal irrelevante stukkies uit die verlede word in die middel van ʼn storie ingevleg. As die idee daarvan was om dit as sulks aan te bied, slaag dit.
Uitsonderlike lewensverhale en staaltjies uit gewone mense se lewens kan baie interessant wees. As mens dink aan bv Audrey Blignaut se sketse en essays oor haar kinderjare wat menige leser aan die lees gekry het. Dit is na dekades steeds goeie leesstof. Dan ook moet in gedagte gehou word dat sulke persoonlike staaltjies en stories baie subjektief is en nie altyd ʼn betroubare weergawe van die werklikheid nie. Dit sou daarom onregverdig wees om enige skrywer se weergawe van sy werklikheid, te beoordeel.
Dit dalk onregverdig om ‘n topskrywer soos Marita van der Vyver se nuutste boek, ‘n Baie lang brief aan my dogter, te vergelyk met Ai, Abraham. Van der Vyver se “brief” is ‘n perpekte voorbeeld van ‘n lewe se staaltjies en stories, met insig en besinning oor haar lewe, maar tog ook met humor waar nodig, aangebied. Dis gestruktureerd en stylvol. Alles wat ontbreek in Lüchhoff se boek.
Daar is interessante stukkies geskiedenis wat die nuuskierige leser sal prikkel. Wie het bv geweet dat Graaff-Reinet ʼn onafhanklike republiek was in 1791?
As dominee, koerantman en diplomaat het hy op drie vastelande gewerk en so 'n leeftyd se humoristiese staaltjies en stories bymekaargemaak. Dit wil voorkom of die stukke oor ʼn baie lang tydperk geskryf is en lukraak bymekaar gesit is. Tydspronge kom binne die stories voor en stukkies familiegeskiedenis word herhaal.
Die skrywer het grootgeword in die era van apartheid, toe lyfstraf algemeen was (hy het gereeld deurgeloop), ontgroening van sotte ʼn gegewe en daar vir meisies serenade is. Die studentebond het dinge organiseer en Afrikanerbloed het deur are gebruis. Beurse was maklik bekombaar en oorsese reise en studie toeganklik vir ʼn onderwyser se seun, hoewel dit nie verduidelik word hoe dit gebeur het nie. Jonger lesers sou baie van die terminologie of gebruike nie ken nie. Die vertelstyl is egter nie so dat dit sou prikkel om meer te wil weet nie.
Die skrywer vertel van sy sorgelose kinderdae op Clanwilliam, maar die leser vind eers later uit dat Parkstraat waarvan hy vertel, inderdaad in Clanwilliam is. Ook van sy guitige manewales van sy tienerjare op Graaff-Reinet toe vrugtesteel en ander mense poetse bak, algemeen was. Die leser word ook saamgeneem Amerika toe waar hy studeer en van die wedervaringe van sy lewe as predikant in Amerika, Mexiko en België.
Waarom sou die uitgewer besluit het om die boek op wit papier te laat druk? Miskien was dit net hierdie kopie, maar die ink lyk dof, asof dit in draft gedruk is.
Hierdie is meer ʼn feitelike beriggewing van ʼn lewe, waar die humor geforseerd voorkom. Daar is min tekens van werklike besinning, met die uitsondering van “Oor my eie Rubicon-stroompie”. Daar is hy in Amerika gekonfronteer met die realiteit van apartheid en het dit ʼn indruk op hom gemaak.
Wie is die teikenleser van hierdie boek? Dit sou waarskynlik vir sy familie en nasate van groot belang wees. Uiteindelik was die stories waarin Kleinmond en De Wetsbaai in Bettysbaai genoem word, die barometer vir die boek. Dit het die aandag gehou, terwyl die leser ʼn vreemdeling bly vir alles wat nie bekend is nie. So asof die uitnodiging om te deel in die verhale, in die pos weggeraak het. Hierdie leser het ʼn onbetrokke vreemdeling gebly.
Ai, Abraham.