Padmaker
2010 • 352 pages

Ratings1

Average rating5

15

Katrien se reis na haar verlede, is baie meer as die ontdekking van hoe haar verlede haar menswees gerig het. Die leser maak die reis mee as 'n eie pad wat gemaak word. Ons lees van haar lewe as padkampkind, en deur haar reis leer ken ons haar, haar eie verhouding met haar kinders en haar man, en ook haar eie onvermoëns. Sy sien haar paadjies letterlik toegegroei na die huise waar sy as kind gewoon het, en moet onderskei tussen verbeelde werklikheid en haar realiteit. Haar dogter Juli som haar ma se verbeelding mooi op: “Op die ou end skraap ma net 'n klomp verbeelde goed op 'n hoop.”

Sy leer ken die traumas waardeur haar pa gegaan het, en ontwikkel begrip vir haar ma se patologie en hoe dit haar ouers se verhouding affekteer. As kind het sy gevoel haar ma sny haar vlerke af, maar haar eie verhouding met haar dogters is ook nie perfek nie. Die boek laat my besef hoe ons ook maar ons eie onvermoëns aan ons ouers wil toeskryf, en veilig voel as ons kan vasklou aan die bande van die verlede.

Katrien sien haarself ook as 'n soort padmaker, en sy onthou haar pa se woorde,
“Padmaak is 'n saamwerkding.” Haar eie optrede laat soms min ruimte vir ander, haar optrede teenoor man, kinders, en ook ander mense. Katrien leef op haar eie eilandjie. Is dit ook 'n teken van wat haar pa gesê het: “Liefde is soos 'n aflosstokkie, my kind. 'n Mens kan dit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.” 'n Baie hartseer aspek van die boek, is die wete dat beste bedoelings nie altyd so verstaan word nie, en soms ook onverdiend gestraf word. So is die lewe mos ook maar.

Op haar reis kom haar pa se woorde na haar toe terug, is dit vir haar 'n inspirasie.
“Sien jy,” het hy gesê, “as 'n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat.” En: “Kyk 'n bietjie rondom jou, Katrien, daar is soveel dinge wat vooraf moet gebeur, wat net reg moet loop om die stuk pad eindelik begaanbaar te maak.”

As ons padmaker Japie Badenhorst se woorde ter harte neem, sal ons daardie lewenslesse met vrug op ons eie lewens kan toepas. As 'n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat. Inderdaad, ja.

October 18, 2011Report this review