Ratings1
Average rating4
Hierdie is ‘n lieflike verhaal wat seker as magiese realisme beskryf kan word. Ou mites en legendes van wesens uit die see wat eens op ‘n tyd op droë Karoogrond geleef het, waar geen skuit nou meer kan seil nie, word vertel in ‘n kultuur wat só raak beskryf word, dat dit voel of ons Hendrik en sy mense ken.
Ons ruik die seesproei wat saam met die Mamlambo wat nooit ‘n naam gegee word nie, in Hendrik se bad kom lê. Ons hoor haar gesis tussen haar skerp tandjies deur as sy verwoed uitgooi en rondkrap, terwyl sy Rebekkah se geel rok dra. Sy word geleidelik half mens, soos wat die proses vorder wat Hendrik met Sara se hulp, oor die weggaan/dood van Rebekkah kom.
Die leser weet nooit regtig wat gebeur nie, en die skrywer hanteer dit baie goed dat jy eenvoudig wil aanhou lees.
Aanvanklik het die boek my nie vasgegryp nie en het ek dit eers eenkant toe geskuif, want Hendrik se stem het my glad nie oortuig nie. Ek kon geen rede vind waarom sy taalgebruik nie konsekwent in sy eie styl gebruik wiord nie. Ek trek daarvoor ‘n ster af om dit drie te maak, maar gee weer een by omdat min skrywers my aan die gis hou. Dit doen Vandermerwe meesterlik.