Ratings1
Average rating4
Eugene vertel van die grootwordjare en latere lewe van ‘n bruin seuntjie in die Kaap, die Paarl en later in Johannesburg. Dit begin en eindig in 2017, maar tussenin leer ken ons die agterjaarts en langstoepe waar Eugene geleef, oorleef en beleef het.
Daar het die afgelope jaar ʼn hele paar boeke verskyn oor die grootwordjare van bruin kinders. Dit gee ekstra skop aan die hou op die maag as jy lees oor onder andere Ivor Swartz, Ronelda Kamfer, Audrey Jantjies en nou Kirby van der Merwe se eerstehandse belewenis daarvan. Die karakters word kinders in jou kop, wat dikwels geweld beleef en aanskou, as deel van hulle daaglikse lewe. Eugene is geen uitsondering nie.
In die eerste deel, wag die middeljarige joernalis Eugene op iemand uit sy verlede, Alan. Al twee mans was verlief op dieselfde meisie, Jenny.
In die tweede deel, leer ken ons die jong Eugene en Alan en ook sy oppasser, die loslyf Meisie en die Bitterhouts se bobbejaan, Hitler wat vasgeketting is aan sy paal.
Eugene het egter van jongs af sy eie metaforiese bobbejaan wat op sy skouer sit en in sy oor fluister. Hy beleef egter nie die bobbejaan as die donker energie wat dit is nie, vir hom is dit dikwels sy ‘mak bobbejaan' wat kamma saamry, deur wie hy sy eie behoeftes en gevoelens uitspreek. “Kêrels, dankie, dit was fokken lekker, maar my bobbejaan wil uitklim, anders kak hy in julle kombi.” ( p.189)
Eugene se bobbejaan kan ook ʼn verdedigingsmeganisme wees waardeur hy sy realiteit ontken, en dis ook die bobbejaan wat Eugene se donker gedagtes en dade aanhits.
As joernalis beleef Eugene ook die harde werklikheid van die wreedheid tydens die struggle en apartheid.
Kirby van der Merwe se verhaal is egter veel meer as net bewusmaking van onregte, swaarkry en sukkel. Dit is ʼn sterk verhaal oor vriendskap, verlies en verraad. Dit verg ʼn stip leser om die kloutjie by die oor te bring.