Halley se Komeet
Halley se Komeet
Ratings1
Average rating3
"Pete de Lange moet as tiener probeer oorleef in 'n klein Natalse dorpie gedurende die onstuimige tagtigerjare saam met sy nuutgevonde vriende: Petrus en Sarita. In 'n land wat bloei van rassekonflik is dit makliker gesê as gedaan. Pete en sy vriende het 'n wrede misdaad gesien en die skuldige is op hulle spoor. Sal reg en geregtigheid geskied in 'n land wat reeds polities verwronge is?"--
Reviews with the most likes.
Min jeuglit hou regtig my aandag, maar omdat hierdie een afspeel in ‘n tyd wat vir my al te bekend is, het ek hierdie een klaar gelees. Die uitgewers het dit met reg as jeuglit bemark en nie as ‘n bildungsroman nie, daarvoor was daar hopeloos te veel blote beskrywings van skoolseunverliefdheid en vryery, en dan die rugbyspelery.
Dinge soos hy dit beskryf klink vandag moontlik ongeloofwaardig, maar dit is hoe dit was. Dit is hoe apartheid mense se lewens affekteer het. Die walglike Rudi's het bestaan, en bestaan waarskynlik steeds.
In die begin het die “mooiskrywery” vir my ‘n bietjies te bewustelik geforseerd geklink, maar soos die boek gevorder het, het dit beter gegaan. Die boek is goed versorg, wat altyd vir my punte tel. Dit gee vir my ‘n gevoel dat die skrywer respek vir sy skryfwerk, sy uitgewer en sy leser het.
Die ontwikkeling van die vriendskap tussen Sarita, Pete en Petrus, was mooi, dit was goed. Ek het heeltyd gehoop om bietjie meer van Petrus se omstandighede te wete te kom, soos dié van Sarita, wat baie goed uitgebeeld is. ‘n Mens kon jou die gesin verbeel. Ook Pete se ouers en sy verhouding met hulle was
Omdat dit ‘n jeugboek is, sal die teikenmark waarskynlik aanklank vind by die lang beskrywings van wat op en om die rugbyveld gebeur, met beskrywings van elke hou en beweging, maar dit het hierdie leser koud gelaat. Dit was vir my ook onwaarskynlik, dat ‘n seun wat nie eers die vierde span haal nie, dan skielik eerstespan speel.
Apartheid laat mens nadink, met die wysheid wat nabetragting bring. Ek vind dit egter onwaarskynlik dat ‘n plattelandse seun se denke sonder enige invloede van buite, self so sou ontwikkel. Veral met ouers wat nie voor ‘n tiener “blerrie” kan sê nie. Pete het nie die voorreg van ‘n ander rolmodel, of ander leesstof gehad nie. Plek-plek het dit ook bietjie prekerig geklink oor die rassekwessie, asof hy verduidelik oor dingetjies wat mens eintlik eers agterna op kan terugkyk.
Halley se komeet en die effek daarvan, vervleg in die geslagte, was uiters geslaagd, soos wat ons oumas en oupas ook ‘n vreemde kyk in hulle oë gehad het as hulle praat oor die verblindende lig wat die hemelruim in twee gedeel het, en ekself ook presies onthou waar ek was toe ek Halley se komeet gesien het.
Mag daar ‘n Pete vir elke Petrus van die lewe wees.
‘n Soliede drie sterre.