Ratings1
Average rating4
"Dit was die vyftiende jaar van ekonokrasie. Vyftien jaar nadat ons ons demokrasie vir die Korporasie verruil het. Die politiek is geprivatiseer. Nes ons polisiediens en hospitale, dekades vroeër. Danksy tegnologie, die stygende reënval, die veranderende klimaat, kon die land aan derduisende yskoue, dankbare Amerikaners en Kanadese blyplek bied. Vir beide die aankomelinge én die gevestigde inwoners het voorspoed en ’n beter lewe aangebreek. So het ons geglo, of so is aan ons vertel. Maar nou leer ek ’n nuwe taal. Die taal van onthou. En dit maak my gevaarlik. Wanneer ’n mediese dokter die aandag van die Sentinels trek, moet hy deur ’n verwoeste landskap vlug. In ’n wêreld waar ’n skynson lig verskaf, raak hy ’n pion in ’n komplot waarvan hy onbewus is. Selfs die verdwyning van sy kind tydens die chaos en die kosopstande voor die Wending kon hom nie hierop voorberei nie. In ’n land sonder voëls is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel en een man se besinning oor sterflikheid en dít wat ons mense maak."
Reviews with the most likes.
Distopiese verhale, fantasie en wetenskapsfiksie is definitief nie my normale genre nie, maar Harry Kalmer se In ‘n land sonder voëls, het heeltemal ‘n ander snaar in my geraak. Die idee dat dit waar sou kon wees. Dit is nogal iets in fiksie wat met my resioneer, as iets waar sou kon wees.
Die wêreld wat Harry Kalmer beskryf, is een waar die beheer van die land aan 'n korporasie oorgedra word, wat dan die land bestuur met 'n kombinasie van Skandinawiese sosialisme, Indiese inligtingstelsels en Koreaanse bestuurspraktyke. Elke vyf jaar word daar gestem. Die korporasie wat die vorige termyn die land bestuur het, kom dan by die stembus teen twee of drie ander aanspraakmakers te staan. Die meeste mense het die ekonokrasie verwelkom. Teoreties klink dit ook goed, totdat jy daardie Koreaanse bestuurspraktyke sien uitgevoer word in wat as fiksie opgedis word, maar vir die leser ‘n werklikheid word.
Die boek herinner op ‘n manier aan Lien Botha se Wonderboom.
Hierdie boek het my emosioneel dieselfde affekteer as The Handmaid's Tale, alhoewel ek voor my siel weet dit is ‘n distopiese realiteit, is dit asof dit bloot iets in ons toekoms is wat moontlik is. Ons wêreld is so chaoties op die oomblik, met magtige lande wat deur narre regeer word wat die wêreld as ‘n spel sien waar die poppemeester die toutjies op Twitter trek, dat ‘n land sonder voëls na die realiteit begin klink. Woorde soos “Nanny state” was voorheen nie gebruik nie, nou lees jy daarvan in fiksie. Is dit dan so vergesog?
Kalmer se besinnings oor die aftakeling van die menslike liggaam, van oud word en die dood, was ‘n hou op die maag. “Hier op my oudag het ek skielik die begeerte om dinge te deel. Al sê die mense ook dis nie so nie. Ek is 'n ou man. Dalk kan ek my ouderdom herwin, my waardigheid, deur ons storie te vertel. Deur die ou mens te word wat ek uiteindelik wil wees, wat steeds aan die oue vasklou.”
Die boek het my omgekrap, dit het my ontsenu. Ek het vir twee aande nagmerries gekry oor vreemde wêrelde, waar ek myself wakker geskree het. Juis daarom was die boek vir my uiters geslaag.
Die laaste stuk van die boek was vir my bietjie stomp, asof in pas met die skrywer se lewe, wat gesterf het kort na die publisering van die boek.
Na die Chaos het die Wending gekom. En Adam se sesde lewe het begin. Hy het gesê: “Maar nou leer ek 'n nuwe taal. Die taal van onthou.”
Hierdie is ‘n boek om te onthou.