Ratings1
Average rating4
Weinig mense spit diep in hulle spaargeld in, sluit hulle huis en klim vir drie maande van afsondering op ’n kanaalboot in die verre Engeland. Sonder geselskap. Sonder ervaring. Sonder ’n bootliksens. Sonder die voorwete dat alles goed sal afloop. Annelie en die gryse het besluit om die kanaalpad te vat en reg in die snerpende winter in te vaar. Om te toets wat hulle ná vier-en-veertig jaar van saamwees in mekaar oorhet. Om te besin oor die roete van die allerlaaste vyftien sterkerige jare wat dálk voorlê. Om herinneringe te vergaar vir die stil dae op die ouetehuisstoep. En om mekaar vergifnis te gee vir sovele sondes. Min sou hulle kon voorsien dat die reis van hosannas ook ’n reis van tappende ontberings en rasperende emosies sou wees. En dat hulle meer as een maal die boot wou verlaat en hul kinders bel om hulle te kom haal. Maar tot op die een-en-neëntigste dag het hulle vasgehou aan die idille. En aan mekaar. In Kammaland is die supergewilde Annelie Botes terug met ’n vertelling wat al die kenmerke dra waarvoor haar aanhangers haar koester.
Reviews with the most likes.
Annelie Botes se boeke is ‘n bietjie soos die Huisgenoot, dis nie “polities korrek” om te erken jy lees dit nie, tog is daar min skrywers wat soveel boeke verkoop soos sy. Sy trek vol sale as sy iewers praat, sy het ‘n reuse gevolg. En daar is ‘n rede voor. Haar taalgebruik en skryfstyl is uniek, sy gebruik al die leser se eie sintuie om haar eie wedervaringe mee te leef. Min mense is so eerlik oor hulle eie motiewe en lewe as sy, en amper niemand skryf boonop oor hulle intens persoonlike ervaringe op ‘n manier dat mens daarmee kan assosieer nie. Self is ek ‘n groot fan en besit ‘n hele klomp van haar boeke.
In Kammaland beskryf Annelie Botes haar reis van een-en-negentig dae op ‘n huisboot saam met haar man Chris, waar hulle vaar na Kammaland op die kanale van Engeland se platteland, met die doel om na 43 jaar saam, te sien wat hulle aan mekaar het en mekaar ook te vergewe vir die dinge van die verlede. Hulle leef fisiek en geestelik baie na aan mekaar op die huisboot vir die tydperk, en is op nét mekaar aangewese, al is hulle twee kinders net ‘n oproep ver.
“Wat wil ons nog regkry en doen en bereik? Wat moet eerste gebeur, voor ons kragte ons versaak? Wat kan ons nog verander, en hoe? Watter geheime is daar wat ons vir mekaar wil vertel? Waaroor hou ons al jare lank ons trane op? Waarvoor is ons bang? Wat is daar waarvoor ons mekaar moet vergewe? Wat is daar wat te diep gebrandmerk is en waarvoor ons nooit vergifnis sal kan gee nie?”
Hulle kry veel meer as waarop hulle gereken het en te wagte was, onder andere ook perspektief oor hulle lewe in ons droewe land, waaroor sy heel tereg baie bitter voel. Eers as mens wyer reis, besef jy hoe het die kreef al gewoond geraak aan die kookwater van Suid-Afrika.
“Ons almal bly in een land, Janna. Nie tienduisend myl uiteen nie. Die skerpste duwweltjie van Suid-Afrika is die duisende songs wat op duisende wysies gesing word. Dis 'n kakofonie van dissonante akkoorde, en elke sanger stáán daarop dat sý song die regte song is. Dis oor botsende songs dat daar 19 000 moorde in 'n jaar gepleeg word. En ek sal met jou pinkie trek, dit sal nooit regkom nie.”
Hoewel ek heerlik gelees het, was dit wonderlik om met behulp van Google Maps in die gerief van my eie huis, te kyk na plekke soos Bosworth marina, Kings Bromley marina, Rugeley, Fradley junction, Hawkesbury junction, Lower Heyford, Rugby, Norman's bridge, Fenny Compton, Cropredy, Little Bourton en vele meer. En hoe romanties hulle reis ook al lyk, is ek met elkeen van die 194 sluise wat hulle oopmaak, dankbaar ek kon dit op ‘n lekker leerstoel meemaak, en sawends in ‘n sagte kooi onder ‘n donsduvet, met genoeg plek om te beweeg en alleentyd te hê as ek wil.
Hoewel ek 4 soliede sterre op Goodreads gee, trek ek een af vir sekere van die bar detail wat ek onnodig oordrewe gevind het. Ek wil nie vir die hóéveelste keer lees van ‘n man wat al aan my etenstafel gesit het, se stink poepe nie.
As middeljarige kon ek ook baie goed assosieer met hulle reis wat hulle voorberei vir die laaste skof saam, die laaste kwart van hulle lewe wat ‘n mens al hoe meer intiem met jou lewensmaat saamleef.
“Eendag in die traliebed, as die vensters toegehou word sodat die bedlêendes se borse nie roggel en hulle longontsteking opdoen nie, en dit raak benoud in die eindtydkamer, sal my voete word soos dié van 'n ribbok. Ek sal my oë toemaak en teruggaan Stoke Golding toe. My hande en voete en gesig sal afkoel. Ek sal poeiersneeu opskep en in die lug opgooi. Insakspore trap wat knars onder my Wellingtons. Dik gepakte boomtakke skud, sodat die sneeu op my rooi geruite baadjie se kappie en skouers val. Ek sal met ineengevlegte vingers saam met my dogterkind met die bos koperbruin hare in die wittakboomlaning in die ongerepte sneeu van Hinckley Road Cemetery stap tot by die obelisk. Ons sal stilstaan en die sneeu van koperplaatjies afskraap, sodat oorledenes se oë kan oopgaan om na die sneeu op hulle grafstene te kyk. En my dogterkind sal weer, soos daardie dag, vir my sê: “Ek ís lief vir Ma.” Dan sal ek my vlerke finaal sprei. En by die wit sneeupoorte van die hemel vir my skipper gaan wag om vir my 'n beker soet, warm flestee te bring.”
Vergewe hulle mekaar uiteindelik? En waarvoor is die vergifnis nodig? Daarvoor kan mens maar net haar vorige boeke lees vir die groot goed. Om uit te vind van die res, koop die boek.