'n Baie lang brief aan my dogter
'n Baie lang brief aan my dogter
Ratings1
Average rating5
'N Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver se ontroerende jeugmemoires. Dit is 'n speurtog deur die skrywer se beginjare, maar dit is ook 'n liefdesbrief aan 'n dogter en 'n taal en 'n land. En bowenal is dit 'n ma se poging om sin te maak van hierdie wrede wêreld waarin sy haar nou begewe.
Reviews with the most likes.
Hierdie boek het baie emosie is my losgemaak. Ek is ‘n bietjie ouer as Marita, nou maak 5 jaar min verskil, maar op skool was dit op enige ouderdom ‘n groot verskil. Ons het steeds in dieselfde politieke klimaat grootgeword al verkil ons effens in ouderdom, maar dit is ongeveer waar die ooreenkomste ophou.
Ons wêrelde het egter verskil asof ons in verskillende lande gewoon het. Haar lewe was alles wat ek begeer het en dit verpersoonlik steeds vir my alles wat ek nie is nie.
Die vermoë om hierdie tydvak in die vorige eeu so intens te kon beleef en bowenal so goed uit haar geheue te kon herroep is prysenswaardig. Om dit te kan verwoord soos in hierdie baie lang brief, benydenswaardig.
Alle vorige fiksie uit haar pen maak nou meer sin. Dit is merkwaardig met hoeveel insig sy skryf oor die invloed van grootwordjare, hoe onlosmaaklik deel van fiksie dit is, hoe deel van ‘n mens se bewussyn wat dan bewustelik of onbewustelik deur karakters in stories leef.
Die skrywer spaar haarself nie, sy kyk haar eie donkertes vierkantig in die oë en skryf met rou eerlikheid daaroor aan haar dogter.
Haar belesenheid is verstommend, maar soos my ma altyd in my kop gedril het, kennis moet toegepas kan word. En hierin lê die waarde van hierdie boek, alles word geïntegreer. Lewenswysheid, Shakespeare, musiek, reis, verhoudings tussen ouers en sibbe, skool en sport. Vry en verdriet. Alles wat mens méns maak. Ons is almal die produk en samestelling van al die elemente uit ons eie lewens, maar om dit so geskryf te sien staan, is groots.
Mia is die mees bevoorregte dogter op aarde. Sy sal kan sin maak van haar eie lewe, om dit te verstaan in die konteks van hierdie baie lang brief aan haar.
Soveel mense gaan hierdie boek lees en dink: ek kan assosieer hiermee. Tog sou ek wou hê die jonger generasies veral, moet dit lees. Dat hulle ons almal beter kan verstaan. Haar storie is ook haar tydgenote se storie, dit is ‘n tydsdokument wat hopelik as sulks erken en bewaar gaan word in literêre instansies. Hierdie boek is ‘n stuk geskiedenis.
Vyf welverdiende sterre, want ek gaan dit sekerlik weer lees.