Ratings1
Average rating5
Die storie van Sagie, seun van die Klein-Karoo, wat oor soveel jare heen in soveel harte gekruip het, word eindelik hier in een band klaar vertel. Van begin tot einde. Is Sagie het die eerste keer in 1987 verskyn, Is weer Sagie in 2013, en nou, tien jaar later, verskyn die slot in dié besonderse trilogie: Sagie is.
Reviews with the most likes.
Die verhaal speel af in die tyd van Anglia's, handsentrales en Aspro's, toe bruinmense in derdeklaswaens op Makkadas moes ry en mense kinders met gestremdhede weggesteek het.
Sagie het ʼn tipe gelatenheid aan hom en aanvaar alle gesag oor hom, sonder om die regverdigheid daarvan te bevraagteken. Dinge is. Sagie is. Is Sagie. Dit is ook waar die eerste boek se titel vandaan kom, Sagie se manier om iets te bevestig: Is. Of in een bitter hartseer oomblik: Issie.
Vandag sou Sagie beskou word as ʼn persoon met leergestremdheid, of met spesiale behoeftes. Hy sou waarskynlik iewers op die outisme-spektrum gediagnoseer word.
Van Tonder is meesterlik met die skep van ʼn karakter. Daar is min karakters in ons literatuur met wie ʼn mens soveel deernis voel soos met Sagie wat al ʼn bekende en geliefde figuur in Afrikaans geword het. Veral die manier waarop Van Tonder humor en patos kombineer, herinner aan PG du Plessis se werk.
Hierdie boek laat jou voel asof jy ʼn fliek sit en kyk, asof jy vir Sagie by sy bokke hoor. Na die einde toe weet jy dit moet klaarmaak, daar is immers net ʼn klompie bladsye oor, maar as die einde kom, voel jy half oorbluf, asof dit te maklik en te vinnig kom. Tog word die leser met vrae agtergelaat. Wat nou? En is Sagie se storie nou klaar? Hierdie leser sê: Issie.