Ratings1
Average rating4
We don't have a description for this book yet. You can help out the author by adding a description.
Reviews with the most likes.
Kan een karakter alles verteenwoordig wat hatig, inhalig en veroordelend is van die swak eienskappe wat voorkom in 'n vorige-geslag-Afrikanerboer?
Die tydsgees waarin die verhaal afspeel, word van die begin af duidelik: dis 'n tyd toe Geloftedag belangrik was, lanferlappies 'n routyd aangedui het en vuurhoutjies van hout gemaak is, dik genoeg om in twee te splits. Dit is ook Peet van Jaarsveld se uiterste inhaligheid wat beklemtoon word deur hierdie obsessiewe rituele om vuurhoutjies in twee te splits, ook kerswasdrupsels wat hy afskraap en bymekaarmaak om weer kerse te maak.
Die hele verhaal speel af oor 'n langnaweek in Desember 1960 en die hoofkarakter se gedagtes en bewegings oor die naweek vorm die kern van die verhaal.
Peet se karakter is een van die aakligste en aanstootlikste hoofkarakters ooit. Anders as byvoorbeeld Buys, waar Willem Anker daarin geslaag het om 'n deernisvolle kant van die ruwe woestaard Buys aan die leser weer te gee, is daar nie een oomblik waar Peet van Jaarsveld die leser begrip gee vir sy gedrag nie. Daar is geen motivering vir sy liefdeloosheid waarmee hy sy vrou en kinders getem het nie. Selfs die omvang van sy liefdeloosheid teenoor homself, hoe hy homself verwaarloos en swak en spaarsaam eet, homself nie vars koffie of warm kos gun nie, is moeilik om te verstaan. Die dra van lanferlappies, die skyn van liefde wat hy voorhou teenoor die gemeenskap en sy kinders, is tekenend van die tyd waarin die verhaal afspeel toe voorgee belangriker was as die realiteit. Die skrywer slaag baie goed daarin om die leser te verplaas na die era van die sestigs, met sy kos wat hy in die safe bêre ('n kas met dubbele sifdraad en gevul met houtskool wat nat gehou word, wat gedien het as koelkas).
Hierdie verhaal sou gesien kon word as 'n bewussynstroomverhaal, sonder dat die hoofkarakter werklik kontak met die realiteit het. Hy leef 'n illusie – dat hy 'n goeie man was, 'n goeie pa vir sy drie kinders, 'n betrokke gemeenskapslid. Dit alles ten spyte van gebeure wat die teendeel bewys. Dis is ook duidelik dat hy sy vrou en kinders mishandel het.
Hierdie boek sou nie gesien kon word as 'n tipiese plaasroman nie, omdat die sentrale gegewe van die roman nie afspeel in 'n normaal-funksionerende familie en gemeenskap nie. Eensaamheid, verval en patriargie vorm die kernelemente van die verhaal. Die skrywer gebruik 'n ontmenslikingstegniek om die oorlede vrou te posisioneer in die rangorde van Peet se denke. Hy dink die heeltyd aan haar as “sy”, sonder om haar naam te noem, asof sy 'n vreemde is. Dit terwyl hy illusies het oor sy oorlede “mammie”, sy eertydse verloofde Deborah en selfs die werker Saar.
Die groter wordende dassiepiskolle wat die plafon verkleur en die huis laat stink vir ander, waar hy self nie die reuk kry nie omdat hy in die huis woon en gewoond is daaraan, is 'n knap metafoor vir die toenemende verval van sy eie lewe en sy denke, sigbaar vir almal, behalwe vir homself.
Was dit 'n genotvolle leeservaring? Nee. Dit was wel boeiend, maar om die verkeerde redes. Ek het die heeltyd tevergeefs gewag vir 'n ontknoping of motivering vir Peet se aanstootlike gedrag, moontlik uit sy kinderjare. Was dit bloot te wyte aan 'n narsistiese persoonlikheid? Die kinders se haat vir hulle pa is duidelik en die leser lei af dat daar meer gebeur het as wat geskryf staan.
Die titel is nommerpas: menslikheid en deernis syfer weg in hierdie boek. Die plaas Botterblom waar sy oorlede vrou grootgeword het, wat die simbool geword het van die onbereikbare, waarvoor hy homself van basiese gerief en kos ontneem het om te spaar om dit te bekom, word op verrassende wyse van hom ontneem. Dit was die enigste klein verrassing in die boek om die leser te beloon omdat hy of sy deur Peet van Jaarsveld se gedagtes gewroeg het. Dit is egter terselfdertyd die afgryslikheid van die karakter wat die leser emosioneel ontstem en juis daarom vir my geslaagd is.
Hierdie resensie verskyn op LitNet
http://www.litnet.co.za/syferfornein-deur-cas-wepener-n-resensie/