Ratings1
Average rating4
Kara Immelman se lewe is eintlik nogal uitgesorteer. Sy is in matriek en hoewel sy heeltemal te skaam is om gewild te wees, het sy vir Eduard, haar beste vriend van laerskooldae af. Sy is ook haar skool se topswemmer en die moontlikheid van ’n swembeurs wink. Al gebeur daar nie veel op die dorpie waar hulle woon nie, het sy en Eduard groot planne om eendag die wêreld te sien. Planne wat aangevuur word deur hulle gedeelde passie vir flieks. Wanneer Samantha egter op die toneel verskyn, herrangskik dit Kara en Eduard se hele bestaan. Want Sam is nie net onmoontlik mooi nie, sy speel ook volgens haar eie reëls. Toe ons oneindig was, is die verhaal van ’n meisie wat nog altyd presies gedoen het wat van haar verwag is. Iemand wat so besig was om almal gelukkig te hou, dat sy nooit regtig probeer uitvind het wat háár gelukkig maak nie. Totdat sy een middag in ’n aantrekhokkie vir die heel eerste keer gesoen word. Dis ’n storie oor vriendskap en lojaliteit. Oor seksualiteit en vloeibaarheid. Maar bowenal is dit die verhaal van ’n meisie op ’n selfontdekkingsreis – die soort reis wat in ’n Hollywoodfliek hoort.
Reviews with the most likes.
Hierdie is ‘n YA book met ‘n verskil, die hoofkarakter is ‘n doodgewone meisiekind, met haar voete plat op die aarde. Sy smee ‘n diep vriendskap met die nuwe meisie, wat deel word van ‘n driemanskap - ‘n hegte vriendskap tussen meisie en seun, staight en gay.
Dit ondersoek die grense tussen drome en realiteit en ons sien ook hoe die ouers hulle drome op hulle kinders projekteer en deur hulle wil leef.
Hierdie is ‘n jeugverhaal, maar ek kon die boek volledig geniet, dis slim en skerp geskryf, dit probeer nie opvoed nie, dit moraliseer nie, dit gee vir jou ‘n lekkerleesverhaal vir tieners, hulle ouers en ook vir oumas van ‘n tienerdogter, soos ek.