Ratings1
Average rating4
"Wanneer die liggame van twee vooraanstaande sakemanne binne 'n week na mekaar in hulle motors aangetref word, is die joernalis, Alex Rheeder, in albei gevalle eerste op die toneel. Die ondersoekbeampte, Kaptein Harold Beukes, wil weet waar Rheeder sy inligting kry, maar Rheeder is self in die duister oor die motiewe van die moordenaars wat hom van inligting voorsien. Binne 'n aantal weke is daar nog vier moorde. Rheeder moet nie slegs die moordenaar of moordenaars ontmasker nie, hy moet ook die agterdog wat die ondersoekbeampte teen hom koester, besweer en twee aanslae op sy lewe trotseer."--Publisher's description.
Reviews with the most likes.
‘n Debuutroman wat beïndruk!
Voorblad van Hannes Visser is ‘n spanningsroman wat my dadelik dieselfde tevrede gevoel gegee het as toe ek die eerste Zeus-boek van Julio Agrella gelees het. Een van daardie wat jy wil lees met ‘n tjoklit en lekker koffie as dit buite saggies reën, of met ietsie kouds op ‘n somersdag by die see..
Die karakters is vars met unieke stemme, die aanslag op ‘n drafstap, al op die spanningsdraad. Die antagonis Petrie, smeek om gemoer te word en daar is heerlike newekarakters soos Vingertjies Mentoor.
Humor is so fyn dat jy eers vies word vir n karakter, voor jy lag vir die situasie. Jy voel of jy die mense ken! Net Lynette het haarself nog nie so láát ken dat jy voel jy ken haar geheime nie. Tog is sommige mense so, en ek het heeltyd gewonder oor haar verlede, hoekom is sy soos wat sy is.
Die hoofkarakter Alex Rheeder is ‘n ou-skool joernalis. Deeglik en dáár waar die goed gebeur. Net soos Irma Venter se Ami Prinsloo, is Alex ‘n misdaadjoernalis. Dit maak vir my “sagter” misdaadromans wat meer met my emosie speel as met my speurvernuf om misdade op te los. Ek hou daarvan! Dit is vir my soos die lewe is.
As leser voel ek nooit deur die skrywer mislei, asof daar ‘n klomp red herrings ingegooi word en ek moet raai-raai riepa speel nie.
Dis my soort spanningsverhaal die, nie te veel gruwelike detail vol bloed, derms en testosteroon nie.
Die skrywer gee genoeg wenke van die karakters se verlede, dat jy hoop daar kom ‘n opvolg dat jy tussendeur meer van hulle te wete kan kom.
Hannes is hopelik besig om meer te skryf.
Bestel die boek by Naledi https://naledi.co.za/produk/voorblad