Ratings1
Average rating5
Reviews with the most likes.
Weerloos is ʼn sensuele reis waar die leser haarself kan verlustig in liefde, begeerte, verraad, die lokstem van verlange en wellus. Maar dan leer Desirio haar ook van stilte. En van begeerte. Daar is konsepte van die paradoksale en ander filosofie wat slim ingevleg is. Jy dink nog jy verlustig jou in die dekadente oorvloed wat jou sinne bedwelm, dan lees jy al die tyd ʼn stukkie filosofie.
Dakini gebruik haar liggaam as ʼn poort waardeur sy “juvenale” lei om mans te word, haar speelding waarmee sy aan haar siel se dans uiting gee. Maar dan word dieselfde vrug van goed, ook in haar “Vroeë tyd” die vrug van kwaad. Daar is dus ook ʼn spel met tyd.
As jy nog altyd wou weet op watter manier jou liggaam ʼn prostese is van jou siel, kom kyk wat gebeur as daar van die karakters se eiendom op ʼn geheimsinnige manier verdwyn. En dit in ʼn plek waar die skurk in ʼn hemel woon, en die godin in ʼn hel. Maar net sodra jy wonder oor hierdie vreemde konsep van goed/sleg, dan ontmoet die godin haar held weer in ʼn hemel. Goed en sleg word dus uitruilbare konsepte. Dakini wil met liggaam en emosies leef, en Desirio weer met rede en beheer.
Belangrik in Weerloos is dat reg/verkeerd, hemel/hel, goed/sleg alles relatiewe begrippe is, en dat balans alles is. Die boek is deurspek van simboliek, soos die vier waarsêers wat die vier elemente simboliseer; die wesensvoorwerpe wat verdwyn klink of dit uit sprokies kom. Die simbool van die slang wat ʼn groot rol speel, het eens op ʼn tyd die godin en seksualiteit voorgestel voordat dit deur die kerkvaders as boos verdraai is. Daar is ook ʼn element van heksery, en die vervolging van hekse in die Middeleeue.
Dakini leer op die einde dat daar nie goed of sleg is nie. Albei is net en moet daar wees vir mekaar om te bestaan. Leef deur jou lyf aan die een kant, en rede en beheer aan die ander. Soos wat manlik en vroulik, emosie en verstand, nie een beter as die ander is nie, maar wel langs mekaar staan en mekaar aanvul. Balanseer. Deel is van een volmaakte geheel.
Weerloos kan nie sommer net ligtelik gelees word nie, al wil jy kaalvoet soos Dakini op ʼn koel hematiet-pad stap, met ʼn middernagblou fluweelkleed om jou skouers.
Waar Annelise se eerste roman, die kontroversiële Maanvrug, ʼn verhaal vol fantasieë is, is Weerloos vir my ʼn fantasie propvol potensiële waarheid.