Ratings1
Average rating4
"In 1997 begin Jan van Tonder werk aan ʼn roman oor die bloeitydperk van Oudtshoorn se volstruisbedryf.* Sewe-en-twintig jaar later verskyn Die verevrou en word Liora en Candice se verhaal uiteindelik vertel. Vir lesers wat Jan van Tonder se topverkoper, Roepman, geniet het, behoort sy jongste roman ʼn waardige opvolger te wees. Soos met Roepman kom seksuele ontwaking, ongewenste swangerskap en ʼn homoseksuele verhouding weer ter sprake, maar dié keer is die hoofkarakters vroue. Liora word groot op 'n volstruisplaas in Algerië, maar sy is nie die enigste verevrou nie. Duisende kilometers weg, in die Suid-Afrikaanse dorpie De Rust, hang Candice se bestaan af van die verkoop van vereprodukte, en per toeval kruis die twee vroue se paaie jare later danksy ʼn woordelose gesprek met ʼn verewaaier. Beide Liora en Candice leef met hulle koppe in die wolke in ʼn poging om hulle realiteit te ontduik. Liora se skoppelmaai word ʼn simbool van haar behoefte om te vlug van haar pa en die onrus in Algerië. Candice se stelte verwyder haar van die grond en Blomnek, ʼn wêreld wat sy nie wil konfronteer nie. Oor die bestek van 320 bladsye verskaf verskeie ander karakters kleur aan Liora en Candice se lewens. Sommige, soos Moshe Habib, speel ʼn beslissende rol in Liora en haar ma se lewens; ander kom en gaan sonder enige wesenlike indruk. Walter, Candice se verbode liefde, het ongetwyfeld ʼn impak op haar lewe, tog is hy ʼn eendimensionele karakter met wie ek nie kon simpatiseer oor sy verliese nie. Al wat ons van hom weet, is dat hy ʼn kunstenaar is uit ʼn ryk, wit familie. Liora se kortstondige minnaar, Chrestien Blanc, maak ʼn vinnige verskyning, terwyl Odette, Liora se minnares, probeer vastrapplek kry in die storie, maar vinnig vervaag weens haar knaende drang om aandag. Die roman dek ʼn ambisieuse verskeidenheid onderwerpe en omgewings wat moontlik die aandag kan aftrek van die ontwikkeling van stewiger karakters. By tye het dit gevoel of daar te veel potensiële storielyne en karakters is wat my met onopgeloste vrae gelaat het. Daar word byvoorbeeld gesinspeel op Moshe se biologiese verwantskap met Liora, sy "engeltjie", maar dit word nooit duidelik bevestig nie. Ook Liora se skynbaar abnormale seksuele ontwikkeling word aanvanklik deur haar ouers bespreek, maar eers laat in die roman duik dit weer op. Die verwagting word verkeerdelik geskep dat dit ʼn belangrike deel van die storielyn gaan uitmaak, maar dit word ʼn syspanstorie wat die pad ook byster raak soos Liora se pa se motorfiets. Die leser reis saam na die plaas, Finisterre, na Algiers, De Rust, Parys en Oudtshoorn en leef die politieke omstandighede en oorlog in Algerië, Frankryk en Suid-Afrika in die 1960's en vroeë 1990's mee. Hoewel die roman tussen dekades rondspring, is daar aktuele raakpunte wat in 2018 ook relevant is, onder andere godsdienstige onverdraagsaamheid en rassespanning. Berei jouself ook voor op ʼn paar gewelddadige tonele en ʼn sterk fokus op die vroulike anatomie en seks. In sommige gevalle is hierdie gedetailleerde beskrywings belangrik vir die storielyn. In meer gevalle voel dit onnodig en kan die leser met rede wonder of dit nie bloot vir sensasiedoeleindes is nie.Die verevrou is nie ligte leesstof nie, en dis goed so. Nie alle romans hoef lig en donsig te wees nie. Ons het nodig om, soms onder protes, uit ons gemaksones gesleep te word." --Publisher.
Reviews with the most likes.
“Sy gaan staan onder die stort. Eers met net die koue kraan oop om haar uit die kokon te ruk waarin sy haar die afgelope drie dae toegespin het – nie die gladde geel kokon van 'n sywurm nie, maar 'n blarerige, onnet spul, die nes van 'n tuinspinnekop.”
Hierdie aanhaling uit die boek het my getrek, en dit het uiteindelik ook vir my aangedui hoe ek die boek ervaar het. Om te lees oor die lewe van Liora en haar familie was soms soos om onder ‘n koue stort in te klim, en die tinteling van die koue water oor my lyf te ervaar. Net so het dit my uit die gemaksone van die gladde geel kokon geruk om te lees oor die vreeslikhede van die oorlog in Algerië, waarvan ek maar min weet.
Van die karakters is die boek en hulle lewens, is ook maar 'n blarerige, onnet spul, die nes van 'n tuinspinnekop. Soos regte mense is. Mense na aan mekaar pleeg verraad, mishandel mekaar en het mekaar ook lief.
Boeke wat losweg gegrond is op die werklikheid, trek my altyd. Boeke met ‘n verhaallyn wat sou kon wees, is my ding. Die lewe van Liora Papalato, geïnspireer deur wyle Luisa Pappalardo wat afspeel in Oudtshoorn, die oorloggeteisterde Algerië en Parys, was opwindend, skrikwekkend, tragies, soos die lewe self dikwels is.
Die boek het my geraak op plekke wat moeilik is om te beskryf, dis eerder ‘n emosie as ‘n mening. Volgens die skrywer is die aanvanklike manuskrip verskeie kere afgekeur, maar hy het volhard. Ek is bly hy het. Welgedaan!